Tuinroete moet oplet na die gevaartekens

Australië brand en inwoners van die Tuinroete moet oplet na die gevaartekens

14 Januarie 2019

Artikel deur Cobus Meiring 

Die bykans onvegbare en wydverspreide brande wat Australië tans lamlê is ongekend in terme van skaal en omvang, en die beramings van skade wat aangerig word, is duiselingwekkend, sê Cobus Meiring van die Inisiatief vir Grondeienaars in die Suid-Kaap (SCLI).

“Miljoene hektare kosbare landbou- en bewaringsgrond regoor Australië het afgebrand, derduisende diere het wreed doodgebrand en duisende huise is verwoes. Daarbenewens is alle aanduidings tans dat die Australiese ekonomie ‘n afwaardse neiging gaan reflekteer as ‘n direkte gevolg. Dit beteken ook dat die brande nadelige langtermyn implikasies kan hê vir gemeenskappe wat moet opstaan uit die verwoesting.”

Meiring verwys na die brande in Australië en sê inwoners van die Tuinroete moet oplet na die gevaartekens. “Die Tuinroete self is geen vreemdeling in die oorkoming van natuurlike rampe soos die 2017 en 2018 brande nie. Selfs drie jaar na die mees verwoestende brand in Suid-Afrika se geskiedenis is dit steeds nie moontlik om die werklike skade van die Knysna-brande te bepaal nie. Hoewel kleiner in skaal as die Australiese ramp, was die 2017/2018 Knysna- en Outeniekwa-brande inderdaad omvangryk en verwoestend vir die plaaslike inwoners en die ekonomie.”

“Buiten die skade aan infrastruktuur soos grensdrade, besproeiingsnetwerke, kommunikasie-infrastruktuur, boorde en plantasies, was die skade wat aan die Tuinroete se biodiversiteit aangerig is omvangryk. Skade aan biodiversitiet is dikwels moeilik om te bepaal, maar die verlies aan plantspesies wat dikwels totaal uitsterf weens te veel brande oor ‘n kort tydperk, insekte, reptiele, voëls en so meer, is insiggewend.”

Volgens Meiring word die Wes-Kaap, insluitend die Tuinroete, gereeld deur veldbrande geteister wat meestal kwaadwillig of nalatig van oorspong is. “Die enigste rede waarom die Tuinroete nie tans ‘n buitengewone hoë brandsyfer toon nie, is omdat meer as 200 000 hektaar die laaste aantal jare afgebrand het en derhalwe is daar soveel minder biomassa in die area beskikbaar om te brand.”

Hy sê die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (Garden Route District Municipality) en sy vennote wat deel vorm van die Tuinroete-Omgewingsforum (Garden Route Environmental Forum – GREF), is aktief besig om grondeienaars by te staan en aan te moedig om die hergroei van indringerplante te bekamp en te beheer ten einde ‘n herhaling van die 2017/18-brande te bewerkstellig”.

“Die Tuinroete kan beslis nie ‘n herhaling van die 2017-brande bekostig nie,” sê Meiring. Hy doen ‘n beroep op grondeienaars en grondbestuurders om toe te sien dat hulle eiendomme voldoen aan alle wetlike voorskrifte. Hy versoek grondeienaars om alles in hulle vermoë doen ten einde die Suid-Kaap te beskerm teen die alomteenwoordige risiko van weghol-veldbrande en die verwoesting wat dit meebring.

Grondeienaars wat leiding nodig het ten opsigte van veldbestuur kan die GREF- en SCLI-webwerwe besoek vir meer inligting of om kontak te maak met spesialiste. Kontak Cobus Meiring: cobus@naturalbridge.co.za

Brande in die Suid-Kaap het in 2017 en 2018 verwoesting gesaai. Ten einde verdere impak op die ekonomie en biodiversiteit te voorkom, moet alles moontlik gedoen word om brandrisiko’s in die toekoms te verminder.

** Die Inisiatief vir Grondeienaars in die Suid-Kaap (SCLI) is ‘n openbare platform en dinkskrum vir grondeienaars, grondbestuurders en ander belangegroepe ten einde indringerplante, waterbron-rentmeesterskap en grond as ‘n natuurlike hulpbron te bevorder en te bestuur. SCLI word ondersteun deur die Tafelbergfonds, ‘n filiaal van die Wêreldnatuurfonds van Suid-Afrika (WWF SA). SCLI is ook die sekretariaat van die Tuinroete-omgewingsforum (GREF). Dié forum bevorder samewerking ten opsigte van bewaring, die aanpasbaarheid van omgewings en gemeenskapsinteraksie met die doel om omgewingsbestuur meer geïntegreerd en doeltreffend te maak.

 


Posted

in

,

by

Tags: