11 September 2020

“Toegang tot vars water is ‘n basiese mensereg en niks illustreer die belangrikheid daarvan beter as die uitbreek van COVID-19 nie,” sê Cobus Meiring van die Suid-Kaap Inisiatief vir Grondeienaars (SCLI).

Toegang tot vars water is ‘n basiese mensereg.

 

As deel van ‘n reeks onderhoude oor die stand van riviere in die Suid-Kaap, het Meiring met Patrick Oktober, ‘n inwoner van ‘n plaaslike gemeenskap in die Wildernis Hoogte-area gesels en hom uitgevra oor die hantering van vars water deur die plaaslike gemeenskap.

 

 

Sê Patrick Oktober, “Die plaaslike gemeenskap woonagtig in die Wildernis Hoogte-area – beter bekend as “Die Kamp” – maak self seker dat krane nie lek of onnodig loop nie. Die George Stadsraad voorsien ons gemeenskap van krane en lopende water. Die stadsraad voorsien ook die nodige toiletgeriewe in die vorm van tydelike eenhede wat gereeld vervang en gediens word en vullisverwydering word weekliks gedoen.”

Patrick Oktober.

Volgens Oktober is sosiale afstand in ‘n plakkerskamp baie beslis ‘n uitdaging en nie eintlik moontlik om streng toe te pas nie, maar die gemeenskap dra wel hul maskers. Toegang tot skoon, lopende water is ‘n lewenslyn.

“Omdat daar toegang tot skoon, lopende water is, word daar gereeld hande gewas en persoonlike higiëne toegepas, selfs onder die kinders wat al te graag buite speel en soms blootgestel is,” sê Oktober.

Luchelle Oktober.

Meiring wys op die dringendheid van toegang tot vars water vir gemeenskappe, maar beklemtoon terselfdertyd dat meer gedoen moet word om die besoedeling van rivierstelsels daadwerklik te stuit.

“In ‘n omgewingskonteks is die gehalte van afloopwater altyd ‘n bron van kommer, veral as mens in gedagte hou dat afloopwater vanaf Wildernis Hoogte na beide die Kaaimans- sowel as die Touwrivier vloei. Dié afloopwater kan beslis ‘n impak hê op die welsyn van die onderskeie riviere se ekologiese integriteit,” sê Meiring.

“Die ekologie en biodiversiteit van beide die Kaaimans- en Touwrivier word reeds ernstig geknou deur groot hoeveelhede indringerplantegroei in die opvangsgebiede en syferlyne. Ander knelpunte is die konstante nuwe ontwikkelings wat gepaardgaan met die uitkap van dit wat oor is van inheemse woude, die vernietiging van fynbos en sensitiewe natuurlike habitat,  asook die omheining van eiendom en die inperkings wat dit teweegbring vir die migrasie van wildlewe.”

“In ‘n snel-ontwikkelende Suid-Kaap is die rivierstelsels die laaste oorblywende wilde landskappe wat gered kan word en behoue kan bly vir die bewaring van ons eiesoortige en spesieryke natuurlewe.”

Meiring doen ‘n beroep op grondeienaars, owerhede en gemeenskappe om alles in hulle vermoë te doen om dit wat nog oorgebly het van die Suid-Kaap se natuurlewe te bewaar en te beskerm.

SCLI staan tans grondeienaars by met die ontwikkeling van indringerplant-beheerplanne wat hulle in staat stel om die plante op ‘n sinvolle en bekostigbare wyse te beheer en uit te roei.

**SCLI is ‘n openbare platform vir grondeienaars en landskapbestuurders wat ‘n belang het by die uitwissing en bestuur van indringerplantegroei. SCLI word ondersteun deur die Tafelbergfonds, ‘n filiaal van die Wêreldnatuurfonds van Suid-Afrika (WWF SA). 

Written by Marti Kirstein