20 October 2020

“Die Suid-Kaap se bergplantegroei lyk goed na gunstige winterreëns,” sê Cobus Meiring van die Tuinroete-Omgewingsforum (GREF).

In 2018 het bykans 100 000 hektaar van die Outeniekwa-berge afgebrand nadat weerlig ‘n weghol-veldbrand ontketen het wat vir etlike weke geduur het.

“Omgewingsbestuurders was met reg bekommerd oor die herstel van biodiversiteit in die afgebrande areas. Die brande was buitengewoon fel in baie van dié dele weens die intense hitte wat plek-plek deur welige en digte plantasies indringerplante in die opvangsbegiede veroorsaak is,” sê Meiring.

Die Outeniekwa-brande het gevolg kort op die hakke van die 2017-Knysna brande wat ongekende skade aan die omgewing teen die kus aangebring het.

“Hoewel inheemse plantegroei op verskeie plekke ‘n welkome terugkeer gemaak het, is daar honderde hektaar wat tans weereens die slagoffer van indringerplantegroei geword het en in die proses reeds die tafel gedek het met brandlading vir ‘n herhaling van die 2017-brande.”

“Daar kan met reg gesê word dat die Outeniekwa-berge die waterfabriek van die Suid-Kaap en omstreke is. Vir dié rede is die ekologiese welsyn van die berge sonder twyfel van belang vir almal wat in die Suid-Kaap woonagtig is.”

“Die knellende droogte wat die noordelike en westelike dele van die Suid-Kaap die afgelope paar jaar geteister het, is nou in die meeste areas gebreek. Daar bestaan egter steeds kommer oor watervlakke. Verskeie damme, soos byvoorbeeld die Kammanassiedam in die Klein-Karoo, is steeds dolleeg, terwyl ander se watervlakke geleidelik styg, maar baie van dié damme het nog nie volle stoorkapasiteit bereik het nie,” verduidelik Meiring.

’n Sprekende voorbeeld van hoe belangrik die ekologiese welsyn en inheemse biodiversiteit  van ‘n opvangsgebied is, het na vore getree nadat Kaapstad in 2016 baie na aan Dag Zero gekom het.

Volgens Meiring is die bergopvangebiede rondom die Wes-Kaap oortrek met indringerplantegroei. Dit het ‘n dramatiese invloed op die hoeveelheid reënwater wat uiteindelik die opgaardamme bereik. Veral in plekke soos Kaapstad en omstreke, waar daar geen plek meer is om groot damme op  te rig nie, raak dit toenemend sinvol om opvangsgebiede  volhoubaar te bestuur.

“Brand is ‘n baie bekostigbare metode om van indringerplante en -bome in bergopvangsgebiede ontslae te raak waar dit baie moeilik is om dit onder beheer te kry as gevolg van ontoegankliheid, maar inheemse Fynbos-spesies kan ongelukkig nie so gereeld gebrand word nie. Dié plante kan tot vyftien jaar neem voordat hulle volwassenheid bereik en gereed is om te kan voortplant en sade vry te stel. Fynbos staan dus ‘n kans om uitgewis te word indien die areas waar hulle voorkom, te gereeld afbrand.”

Meiring benadruk die konstante monitering van die plantegroei-dekking van die Outeniekwa-bergreeks. Voorts moet die oorhoofse samewerking en beplanning van beheerde brande deur die owerhede bemoeid met omgewingsbestuur en brandbeheer beskou word as die eerste stap na volhoubare bestuur van die Suid-Kaap se hulpbronne, insluitend water. Water is sonder twyfel die primêre hulpbron vir die streek se voortbestaan en verdere ontwikkeling.

*Die Tuinroete-omgewingsforum (GREF) bevorder samewerking ten opsigte van bewaring, omgewingsbestuur en -aanpasbaarheid asook gemeenskapsinteraksie met die doel om omgewingsbestuur meer geïntegreerd en doeltreffend te maak.

Foto: Outeniekwa-bergreeks: Die Outeniekwa-bergreeks kan met reg beskryf word as die waterfabriek van die Suid-Kaap. Die natuurlike plantegroeidekking van dié bergreeks is ‘n belangrike komponent in die optimale funksionering van dié “waterfabriek”. (Foto: Cobus Meiring)

Written by Marti Kirstein