Opleiding vir nuwe en bestaande indringerplant-kontrakteurs aangebied
deur Cobus Meiring
9 September 2019
‘n Praktiese opleidingsessie vir nuwe en bestaande kontrakteurs wat indringerplante in die Tuinroete-gebied beheer en uitroei, word op Donderdag 19 September op Knynsa aangebied. Die geleentheid word deur die Inisiatief vir Grondeienaars in die Suid-Kaap, oftewel SCLI, aangebied.
Die opleidingsessie het ten doel om kontrakteurs wat bedrywig is met die uitroei van indringerplante in die gebied tussen Mosselbaai en Knysna se kennis en vaardighede van die bedryf op te skerp.
Dit is ‘n belangrike geleentheid vir nuwe en bestaande kontrakteurs om hulle te help om werk te genereer.
Kontrakteurs wat die sessie bywoon se kontakbesonderhede sal op ‘n databasis geplaas word en beskikbaar gestel word aan plaaslike grondeienaars. Met verloop van tyd het die Tuinroete ‘n gevestigde groep kontrakteurs ontwikkkel wat ‘n lewe maak in die streek deur middel van die beheer en uitwissing van indringerplantegroei op beide privaat- sowel as staatsgrond.
“Met spanne van werkers wat uitgerus is met toerusting wat wissel van van kettingsae, bossiekappers en spuitkanne gevul met onkruiddoder, is hierdie groep mense goed opgelei in wat hulle doen, en lewer hulle ‘n baie belangrike ekologiese diens,” sê Cobus Meiring van die Inisiatief vir Grondeienaars in die Suid-Kaap, oftewel SCLI.
Veral na afloop van die ernstige brande in 2017/2018 en die bedreiging wat dit inhou vir die veiligheid van die landelike gemeenskap, is grondeienaars nou meer as ooit bedag daarop om indringerplantegroei op hulle eiendom te bestuur.
Grondeienaars verkies dikwels om opgeleide kontrakteurs te gebruik om indringerplante uit te roei, veral waar indringerplante op grootskaal op verskeie hektaar grond voorkom.
Deelnemende kontrakteurs sal ingelig word rakende die onderskeie wetgewing wat grondeienaars verplig om hulle eiendomme te bestuur en indringerplantegroei te beheer, sowel as die optrek van beheerplanne om indringerplantegroei beter te bestuur.
‘n Praktiese oorsig oor die aanwending van onkruiddoder sal ook aangebied word.

Belanghebbendes en kontrakteurs wat die opleidingsgeleentheid wil bywoon, of wat hulle dienste wil lys, kan ‘n epos stuur aan Rozanne Steyn by rozannesteyn@gmail.com. Haar kontaknommer is 082 884 4235.
SCLI is ‘n openbare platform vir grondeienaars wat ‘n belang het by die uitwissing en beheer van indringerplantegroei in die Suid- Kaap. SCLI word ondersteun deur die Tafelbergfonds, wat gesubsidieer word deur WWF SA.