Onwettige grondbesetting in die Tuinroete is ‘n bedreiging vir watersekuriteit en landelike veiligheid
22 Januarie 2021
“Onwettige grondbesettings in die Tuinroete is ‘n bedreiging vir watersekuriteit en landelike veiligiheid in die streek,” sê Cobus Meiring van die Inisiatief vir Grondeienaars in die Suid-Kaap, oftewel SCLI.
“Onwettige grondbesettings is landwyd ‘n ernstige probleem, maar dit raak toenemend ‘n groter probleem in die Suid-Kaap,” sê hy.
Onwettige grondbesettings het oor die afgelope dekades toegeneem namate die Suid-Afrikaanse bevolking die platteland verlaat en na die stede stroom in die hoop om ‘n beter heenkome te vind.
Die Tuinroete is geografies gesproke ‘n baie klein area in die groter konteks van Suid-Afrika se totale grondoppervlak, maar is van besonderse belang in terme van die unieke natuurskoon, dierelewe en uiters bedreigde plantegroei, soos fynbos en kuswoude.
Volgens Meiring is die Tuinroete toenemend gewild onder Suid-Afrikaners wat hunker na ‘n rustige area wat geskik is vir aftrede of vir vakansie-doeleindes. Dit lei tot grootskaalse uitbereiding en ontwikkeling in dié area. Daar is ook ‘n toestroming van hawelose mense uit die Oos-Kaap wat noodgedwonge na die Wes-Kaap verhuis in die stryd om oorlewing na die ineenstroting van die Oos-Kaap se ekonomie en infrastruktuur.
“Met ‘n uiters klein geografiese voetspoor en beperkende watervoorsieningsvermoë, het die Tuinroete nie die natuurlike hulpbronne en ekonomiese drakrag om die groot hoeveelheid mense, wat die area as ‘n potensiële heenkome sien, te ondersteun nie,” sê Meiring.
“Tot so onlangs as 2019, het groot dele van die Tuinroete gebuk gegaan onder ‘n intense en langdurige droogte en die area is ook deur ongeëwenaarde weghol-veldbrande geteister wat alles daarop dui dat die klimaat in die streek, soos elders op die kontinent, stadig maar seker besig is om die natuur op sy kop te draai.”
“Onlangse grootskaalse grondbesetting in die landelike Touwsranten-gemeenskap buite George hou ernstige implikasies in vir die hele Wildernis en Hoekwil area, wat regstreeks afhanklik is van die vars water wat afloop in die Touwrivier se opvangsgebied. Dié gebied is nou blootgestel aan besoedeling en kontaminasie omdat informele nedersettings in die bolope van die rivier se opvangsgebied nie dienste het nie. Buiten die menslike gebruik en afhanklikheid van hoë gehalte vars water uit die Touwrivier, is die Wildernis-strandmeer en monding – met al die akwatiese en marine-lewe wat dit moet ondersteun – afhanklik van die invloei van varswater in die delikate mere-stelsel wat deel uitmaak van die Wildernis Nasionale Park.”
“Die kusplato van die Suid-Kaap word reeds dekades lank onderwerp aan kommersiële boerdery en bosbou, wat bittermin landoppervlak oorlaat aan die natuur, met die uitsondering van diep riviere wat ontoeganklik is vir boerdery doeleindes, maar waar inheemse ekosisteme toenemend deur indringerplantegroei oorgeneem word.”
“Privaat-grondeienaars in die bolope van die Knysna-, Goukamma-, Touw-, Kaaimans- en Grootbrakriviere besef almal die bewaringsverpligting wat op hul rus ten einde die Tuinroete se ekosisteme te onderhou, te verbeter en te voldoen aan die relevante omgewingswette. Dié grondeienaars spandeer baie tyd, energie en geld om die area skoon te maak van indringerplantegroei ten einde die natuur ‘n kans te gee op oorlewing. Ongelukkig word al hierdie stelsels deur informele grondbesetting in die bolope bedreig.”
“Juis om hierdie redes, en verskeie ander, soos byvoorbeeld landelike veiligheid, wat beslis meer fokus verdien, is onbeplande en onwettige grondbesetting ‘n diepliggende bedreiging. Almal in die Tuinroete moet saamstaan ten einde die unieke area te bewaar – beide vir die gemeenskap én die natuur,” sê Meiring.
Foto: Onwettige grondbesetting in die bolope van die eens ongeskonde Touwrivier hou ‘n ernstige bedreiging vir inwoners van die Wildernis-area in wat afhanklik is van vars water uit die rivierstelsel. (Foto: Cobus Meiring)
**SCLI is ‘n openbare platform vir grondeienaars en landskapbestuurders wat ‘n belang het by die waterbronbestuur en die uitwissing en bestuur van indringerplantegroei.