Lantana bedreig rivierlope in die Suid-Kaap

Artikel deur Cobus Meiring 

“Hoewel die indringerplant, Lantana camara (Verbenaceae), al voorheen in die Suid-Kaap opgemerk is, oorgroei dit deesdae feitlik elke rivierloop tussen Mosselbaai en Knysna,” sê Cobus Meiring van die Suid-Kaap Inisiatief vir Grondeienaars (SCLI).

Hy sê van die meer bekende indringerplante wat deesdae krisis afmetings in die Tuinroete aanneem, is Lantana camara en Pampasgras (Cortaderia selloana). Pampasgras word deesdae ook orals bespeur terwyl slegs enkele plante byvoorbeeld rondom 2008 in dié gebied te vinde was.

“In plekke soos Wildernis het bewaringsbewuste grondeienaars begin om op eie stoom rivierlope skoon te kap van Lantana en hulle onbaatsugtige werk maak beslis ‘n groot verskil aan die omgewing,” sê Meiring.

Lantana kan maklik uitgeken word sy aantreklike veelkleurige blomme. Volgens Meiring is dié indringerplant aanvanklik relatief maklik om onder beheer te hou voordat dit heeltemal handuit ruk.”

“Die Suid-Kaap se rivierlope en diep valleie is van die laaste plekke wat kan dien as bewaringskorridors vir die oorlewing van inheemse biodiversiteit namate die Tuinroete toenemend aan ontwikkeling en landbou onderwerp word. SCLI, in samewerking met meer as 75 grondeienaars in die Groot Brak, Kaaimans, Touw, Goukamma en Knysna riviere het al bykans 3 000 hektaar indringerplante skoongemaak sedert 2019,” sê Meiring.

“‘n Beduidende aantal probleemplante in Suid-Afrika is dekades gelede al die land ingebring van regoor die wêreld deur onkundige mense wie totaal onbewus was van dié plante se weergalose vermoë om enige landskap oor te neem ten koste van inheemse plante wat nie kan meeding teen die aggressiewe groeiwyse en verspreiding van indringerplante nie.”

“Indringerplante het geen natuurlike vyande wat hulle groei en voortplanting inhibeer nie. Dié plante volg ‘n tipiese patroon van aanvanklike latente verspreiding voordat dit aggressief begin versprei en die landskap begin oorheers, veral waar klimaatstoestande gunstig is daarvoor, soos byvoorbeeld in die Suid-Kaap se Tuinroete met sy redelike hoë reënval en gematigde temperature,” benadruk Meiring.

Foto: Bewaringsgroepe in Wildernis in die Suid-Kaap het begin om rivierlope wat deur digte stande Lantana toegegroei is, skoon te kap van dié aggressiewe probleemplant. (Foto: Cobus Meiring, SCLI)

**SCLI is ‘n openbare platform vir grondeienaars en landskapbestuurders wat ‘n belang het by die uitwissing en bestuur van indringerplantegroei. SCLI word ondersteun deur die Tafelbergfonds, ‘n filiaal van die Wêreldnatuurfonds van Suid-Afrika (WWF SA). Besoek die SCLI webwerf by www.scli.org.za.

 


Posted

in

by

Tags: