Welkome somerreën is goeie nuus vir die herstel van die veld in die Suid-Kaap, maar kommer heers oor die hergroei van indringerplante

 10 Februarie 2020

Artikel deur Cobus Meiring 

“Die boverwagting goeie reëns wat in Januarie 2020 in die Suid-Kaap uitgesak het, is sonder twyfel goeie nuus vir die herstel van die veld en opvangsgebiede in die Suid-Kaap,” sê Cobus Meiring van die Inisiatief vir Grondeienaars in die Suid-Kaap (SCLI).

“Nie alleen bring die reën verligting in die droogtegeteisterde gebiede nie, maar dit sal die herstel van die areas wat in die onlangse paar jaar deur brande geaffekteer was, ‘n hupstoot gee.”

Volgens Meiring het dorpe soos Calitzdorp, Van Wyksdorp, Ladismith en Oudtshoorn steeds nie genoeg reën gekry om aanspraak te kan maak daarop dat die droogte gebreek is nie. Die kanse dat verdere reënbuie nog hierdie somer kan uitsak, kan beslis nie uitgesluit word nie.

Monitering van die herstel van die omgewing

SCLI monitor deurgaans die plantegroei in die ongeveer 200 000 hektaar in die Tuinroete wat onder die wegholveldbrande deurgeloop het. Dit sluit onder meer gebiede in die Stilbaai, Vermaaklikheid, Knysna, Plettenbergbaai en die Outeniqua-omgewing in.

Meiring waarsku dat indringerplante soos wattels en Rooikrans aggressiewe groeiers is. Dié indringers kan gemaklik met meer as ‘n meter in ‘n jaar groei indien toestande gunstig is. Dit is belangrik om die hergroei van indringerplante vroegtydig te beheer. Hy sê indringerplante in die Knysna brand-voetspoor is lank reeds verby die punt waar grondeienaars bloot die hergroei daarvan kan beheer deur dit met onkruiddoder te bespuit.

Kommer oor hergroei van indringers

Meiring sê kommer bestaan oor grondeienaars wat nagelaat het om die hergroei van indringerplantegroei van vroegs af aan onder beheer te hou.

“Daar is dele waar bloekoms, wattels, denne en Rooikrans nou reeds oor die twee met hoog staan en toenemend ‘n brand-risiko inhou.”

“Die verwagte warm somer-toestande, met moontlik nog goeie reën in die vooruitsig, beteken dat die ongewenste groei van dennebome en wattels in opvangsgebiede van die Outeniqua-berge eksponensiële groei kan toon. Owerhede en bewaringsinstansies sal toenemend daarop moet fokus om ‘n wakende oog daaroor te hou en om van die gebiede later in 2020 weer te brand waar nodig.”

“Die permanente onttrekking van MTO Bosbou uit die staatsplantasies aan die hange van die Outeniqua-berge is nog ‘n saak wat hoë-vlak aandag sal moet geniet. Groot gedeeltes van die bosbou-gebiede het sedert 2017 afgebrand en ons verwag aggressiewe teruggroei van dennebome in die voormalige plantasies. Terwyl daar onsekerheid heers oor presies watter instansie die gebiede aktief gaan bestuur, kan dit slegte nuus inhou vir opgevangsgebiede en moeilik bereikbare bergagtige gebiede,” sê Meiring.

SCLI is tans met omvangryke omgewingsbewaringswerk in verskeie rivierstels in die Tuinroete besig. Dié organisasie lewer ook bystand aan grondeienaars wat deur die weghol-veldbrande van 2018 geaffekteer is. Die bystand behels onder meer die optrek van bestuursplanne om indringerplante te beheer en hulp met onkruiddoders.

Somerreëns is goeie nuus vir die herstel van die veld, maar terselfdertyd is daar kommer oor die hergroei van indringerplante. Veld wat tydens die verwoestende Knysna/Outeniqua-brande in die Tuinroete afgebrand het, het die afgelope paar jaar goed herstel weens goeie reën, maar kommer heers oor grondeienaars wat nagelaat het om die hergroei van indringerplantegroei onder beheer te hou. Daar is dele waar bloekoms, wattels, denne en Rooikrans nou reeds oor die twee meter hoog staan en toenemend ‘n brand-risiko inhou.

Written by Marti Kirstein