Karooboere pas aan by klimaatsverandering en neem die leiding met ‘n nuwe model vir veldbestuur
5 Augustus 2020
“Namate droogtetoestande voortsleep in die Klein en Groot Karoo, het boere in die Suid-Kaap geen ander opsie as om die wyse waarop hulle kudde- en veldbestuur toepas en aanplantings doen, drasties aan te pas nie. Dit sluit ook in dat daar meer druk op die regering geplaas moet word om bestaande begrotings vir indringerplantbeheer direk aan grondeienaars uit te betaal,” sê Cobus Meiring van die Inisiatief vir Grondeienaars in die Suid-Kaap (SCLI).
“Klimaatsverandering is besig om boerderye landwyd, op klein en groot skaal, op verskillende maniere negatief en omvangryk te beïnvloed. Boere is bedag op wat die toekoms mag inhou en hoe om by die verwagte veranderinge aan te pas.”
Sommige praktisyns wys daarop dat seisoene stadig maar seker besig is om aan te skuif. Dit hou implikasies in vir wanneer daar geplant moet word of watter produkte die beste gaan presteer gegewe die veranding. Ander kundiges wys daarop dat die reënval in sekere streke stelselmatig en konstant verminder. Byvoorbeeld, normale reënval in die streek verander van sagte deurdringende reënbuie na episodiese reënstorms wat weer nuwe implikasies en uitdagings inhou.

Boere in die Karoo wys daarop dat konstante warm en winderige toestande, sowel as ‘n toename in warm en wolklose dae beslis bydra tot droogtetoestande. Dit het opsigself swak drakrag tot gevolg en dwing veeboere om kuddes af te skaal of om voer aan te koop ten einde die kondisie van vee te verseker.
Volgens Meiring versleg digte en wydverspreidende stande van indringerplante dié situasie ingrypend.
“Opvangsgebiede, riviere en rivieroewers, bergstrome, vleilande en fonteine het oor ‘n periode van dekades totaal oortrek geraak deur indringerplantegroei. Dié situasie hou tans so ‘n reuse bedreiging vir water- en voedselsekerheid in dat indien boere nie self ingryp nie, hulle plase se ekonomiese haalbaarheid in die gedrang sal bly,” sê hy.
Voorgestelde petisie aan die Departement van Omgewing, Bosbou en Visserye
Die Inisiatief vir Grondeienaars in die Suid-Kaap voer aan dat die regering se inisiatiewe om indringerplantegroei op grootskaal aan te pak deur programme soos die Werk-vir-Water-program, nie voldoende suskses behaal nie.
Meiring sê die jaarlikse begroting van bykans R2 miljard daarvoor, wat deur die Departement van Omgewing, Bosbou en Visserye (DEFF) bestuur word, baie beter resultate kan behaal en meer werk sal skep indien grondeienaars hulp-pakkette ontvang om indringerplante op hul grond uit te roei en oor die langtermyn te bestuur.
SCLI het oor die afgelope dekade bewys dat grondeienaars wat gehelp word om standaard Beheerplanne vir indringerplante op te trek en voor te lê aan die DEFF vir finansiële bystand, beter resultate tot gevolg kan hê.
Meiring stel voor dat die regering se bestaande begrotings vir indringerplantbeheer direk aan grondeienaars uitbetaal moet word sodat hulle gehelp kan word in hul taak om die toenemende verspreiding en teruggroei van indringerplante te stuit.