Suid-Kaap se riviere is van strategiese waarde, maar indringerplante verhoed dat riviere optimaal funksioneer
2 Maart 2020
Deur Cobus Meiring
“Vyf rivierstelels in die Tuinroete vorm die basis van ‘n bewaringsinisiatief wat bestuur word deur die Inisiatief vir Grondeienaars in die Suid-Kaap (SCLI). Dié bewaringsinisiatief is daarop gemik om die ekologiese integriteit van die riviere te verbeter in samewerking met aanliggende grondeienaars,” sê Cobus Meiring, voorsitter van die SCLI.
“Die Outeniqua-bergreeks, wat uittroon bo George, is een van Suid-Afrika se een-en-twintig waterbronne wat geklassifiseer word as van nasionaal-strategiese belang. Dit funksioneer letterlik as ‘n water-fabriek wat buitengewone hoeveelhede vars water genereer en vrystel aan die streek,” verduidelik Meiring.
“Uit die aard van die saak is dit in belang van die streek dat die oorsprong van ons waterhulpbronne ‘n hoë bewaringsprioriteit moet geniet. Die feit dat die Outeniquaberge meer en deels onder die bestuur van SANParke en CapeNature val, is van groot waarde, synde dat beide instansies bekwame grondbestuursprakyke toepas, en relatief goed befonds word.”
“Wat voorts ook in die guns van die Suid-Kaapse riviere se behoud tel, is die feit dat die riviermondings van die stelsels, wat hulle oorsprong in die Outeniquaberge het, ook deur óf SANParke óf CapeNature bestuur word, en derhalwe hoë bewaringstatus geniet.”
“Areas aanliggend tot die Outeniquaberge is belangrike opvangsgebiede en is meestal geleë op plase en in semi-beboude areas, wat in privaatbesit is. Dié areas is as opvanggebiede net so belangrik vanweë die beskikbaarstelling van kosbare vars water en die direkte impak wat dit op die ekologiese integriteit van die Suid-Kaap se rivierstelsels het,” aldus Meiring.
Indringerplante verhoed dat riviere optimaal funksioneer
Meiring waarsku egter dat die aggressiewe groei van indringerplante ‘n daadwerklike bedreiging vir rivierstelsels inhou.
“Faktore soos digbegroeide bondels indringerplante in riviere, vleie en stroompies wat stelsels soos die Groot- en Kleinbrakriviere voed, funsioneer lank reeds nie meer optimaal nie. In baie gevalle bestaan die biodiversiteit waarvoor die Tuinroete bekend is, glad nie meer nie,” sê hy.
SCLI bestuur tans ‘n projek om 75 grondeienaars in die Grootbrak-, Kaaimans-, Touw-, Goukamma- en Knysna-riviere by te staan met die opstel van Indringerplant-bestuursplanne. Volgens wet moet alle grondeienaars soortgelyke bestuursplanne in plek hê. Dié planne dui onder meer aan wat die toestand van ‘n eiendom is ten opsigte van die aanwesigheid van indringerplantegroei. Dit dui ook aan hoe daar geprioritiseer moet word in die bekamping van indringerplantegroei.
Voorts verleen SCLI ook bystand aan grondeienaars wie se grond in 2017 en 2018 onder die weghol-veldbrande deurgeloop het. Die hulp behels onder meer die bestryding van indringerplantegroei wat aggressief teruggroei na die brande, veral na die goeie somerreën.
“Dié indringerplante kan weereens ‘n brandrisiko vir die streek word,” maan Meiring.
SCLI bied op Donderdag 19 Maart ‘n opleidingsessie oor indringerplante vir grondeienaars in die Suid-Kaap aan. Belangstellendes kan ‘n epos rig aan Marti Kirstein by marti.kirstein@gmail.com.

**SCLI is ‘n openbare platform vir grondeienaars en grondbestuurders wat ‘n belang het by die uitwissing en bestuur van indringerplantegroei. SCLI word ondersteun deur die Tafelbergfonds, ‘n filiaal van die Wêreldnatuurfonds van Suid-Afrika (WWF SA).