Indringerplante het reuse invloed op beskikbaarheid van water

“Daar lê baie uitdagings voor in die bestuur van waterbronne. Indringerplantegroei het byvoorbeeld ‘n geweldige invloed op die beskikbaarheid van water in riviere in die Tuinroete en sal in die toekoms beter bestuur moet word,” sê Cobus Meiring van die Suid-Kaap Grondeienaarsinisiatief (SCLI).

“Riviere in die Klein-Karoo, soos byvoorbeeld die Nelsrivier wat Calitzdorp en omstreke moet voorsien van water, kan by tye bykans geen water lewer nie as gevolg van indringerplantegroei. Beplanning, die instandhouding van verouderende infrastruktuur, goeie koördinering en watervoorsiening aan die groeiende bevolking en sakeondernemings of nywerhede verg ‘n nuwe benadering en begroting ten einde die Suid-Kaap en die gemeenskappe wat hier woonagtig is in staat te stel om te floreer. Voortgesette en pro-aktiewe insette van die Suid-Kaap se onderskeie Water Forums sal beslis bydrae lewer tot ‘n beter toekoms in terme van die bestuur en voorsiening van vars water in die streek,” sê Meiring.

“Benewens die kritiese rol wat toegang tot vars lopende water in die bekamping van die verspreiding van die Covid-19-pandemie in die streek gespeel het, is die konstante monitering en aktiewe betuur van waterbronne en gepaardgaande indringerplant-infestasies in die Tuinroete van kardinale belang.”

Waterforums speel ‘n belanrike rol in die beskerming van die ekologiese integriteit van die Suid-Kaap se riviere. (Foto: Chris Jooste)

“Die Tuinroete is primêr ‘n landboustreek en ongelukkig het die streek sosio-ekonomies gesproke die afgelope paar jaar swaar gebuk gegaan onder voortslepende droogtes, wat ‘n geweldige negatiewe impak gehad het op die lewensvatbaarheid van die streek, veral in die noordelike en westelike gedeeltes van die streek. Daar is groot dele wat vir nog lank die nagevolge van die droogte gaan voel, en dit mag jare neem vir ondergrondse en oppervlak-watervlakke om te styg, en vir rivierstelsels om weer normaal te funksioneer.”

“Dorpe in die Tuinroete ervaar ‘n invloei van mense na die streek wat nie net groter druk op bestaande natuurlike hulpbronne plaas nie, maar dit impliseer dat die streek daadwerklik sal moet beplan vir ’n toekoms met gemeenskappe wat heelwat meer druk gaan plaas op toegang tot vars waterbronne, en sal moet kompeteer met ‘n toenemend groeiende landbou-ekonomie.”

Sê Meiring: “Buiten oorkoeplende entiteite soos die Departement van Water en Sanitasie (DWS) en die Breede-Gouritz Catchment Management Agency (BGCMA) oftwel die Breede-Gouritz Wateropvangsbestuursagentskap is daar verskeie kleiner waterforums wat ‘n wakende oog hou oor die ekologiese integriteit en water-gehalte van riviere en riviermondings in die hele Suid- Kaap.”

Volgens Meiring is riviermondings soos byvoorbeeld die Klein- en Grootbrakriviermondings, Swartvlei by Sedgefield en die Knysna-rivier krities vir die voortbestaan van akwatiese- en mariene-lewensvorme, asook die lewensvatbaarheid van talle visspesies en voëllewe aan die Suid-Kaapse kuslyn. Instansies soos die Suid-Kaap se Grondeienaarsinisiatief (SCLI), in samewerking met sowat 75 privaat grondeienaars in vyf rivierstelsels, doen geweldig baie werk ten einde krities belangrike rivierstelsels te rehabiliteer na bewaringskorridors deur indringerplante uit te roei. Dié organisasie fokus ook op die meriete daarin om dié unieke area se watertoevoer en ekologie beter te beskerm.

Die luisboom of groot bitterappel is ‘n indringerplant wat riviere in die Suid-Kaap soos die Goukamma-rivier bedreig. (Foto: Cobus Meiring, SCLI)

 


Posted

in

by

Tags: