Groot-Brakrivier se grondeienaars neem aksie ten bate van die omgewing
Artikel deur Cobus Meiring
14 Oktober 2019
“Die impak van konstante lae reënval in die Groot-Brakrivier se opvangsgebied is sigbaar soos wat waterstrome, wat die hoofrivier voed, totaal droogloop en damme leeg staan vir lang tye,” sê ‘n plaaslike inwoner van die omgewing, Marcel van Rensburg.
Van Rensburg se eiendom is stroomop van die Groot-Brakrivier geleë. Digte bosse swartwattelbome verstrengel die steil hange van die vallei wat afloop na die Groot-Brakrivier.
Sê Van Rensburg: “Oor die afgelope paar jaar het ek derduisende rande en hulpbronne bestee om hektare rivierhange skoon te maak van indringerbome. Die verskil is merkbaar.”
“Die impak van swartwattels in die Suid-Kaap is weergaloos. Met langdurige lae reënvalsyfers bereik baie min, en selfs geen varswater wat afloop uit die gebied uit, die hoofstroom van die rivier nie.”
“Die uitdaging wat die uitwissing van indringers in die opvanggebied stel, is egter nie onomkeerbaar nie, maar verg aansienlike toewyding en hulpbronne.” “Inisiatiewe van die Regering, soos Werk vir Water, is lank reeds nie meer die enigste oplossing in die stryd teen indringers nie. Grondeienaars is dikwels oorgelaat aan hulle eie aksies ten einde te voldoen aan die onderskeie wetgewingsraamwerke en regulasies wat van toepassing is op indringerplante se bestuur,” sê Van Rensburg.
Volgens Cobus Meiring van die Inistiatief vir Grondeienaars in die Suid-Kaap (SCLI) is boere en bewaringsbewuste grondeienaars wat hulle bedrywighede in die bolope en opvangsgebied van die Groot-Brakrivier het, toenemend bewus van die belangrikheid van ‘n gesonde Groot-Brakrivier.
“Sedert die groot brande van 2017 vereis regeringsinstansies toenemend dat grondeienaars indringerplantegroei bestry en die risiko van veldbrande verlaag,” sê Meiring.
SCLI bied tans ‘n gratis diens aan grondeienaars in die Groot-Brak-, Kaaimans-, Touw- Goukamma- en Knysna-riviere om bestuurs- en beheerplanne vir indringerplante op te trek as deel van ‘n program om biodiversiteit in die Suid-Kaap te bewaar. Dié program word deur die Tafelbergfonds geborg.
** SCLI is ‘n openbare platform vir grondeienaars wat ‘n belang het by die uitwissing en beheer van indringerplantegroei in die Suid-Kaap. SCLI word ondersteun deur die Tafelbergfonds, wat gesubsidieer word deur WWF SA.



