Bevry rivierstelsels in die Suid-Kaap van indringerplante

Bestuursplanne vir die beheer van indringerplante by kritiese rivierstelsels onderweg

Saamgestel deur Cobus Meiring (SCLI)

11 Februarie 2019

“Klimaatsverandering het reeds sy kloue in die Suid-Kaap ingeslaan. Dit is nou nog meer as ooit tevore vir grondeienaars en grondbestuurders belangrik om drastiese stappe te neem ten einde te verseker dat riviere en opvangsgebiede skoongemaak en indringerplante uitgeroei word,” sê Cobus Meiring van die Suid-Kaap Grondeienaarsinisiatief (SCLI). Meiring was deel van ‘n onlangse feitesending in die streek om te bepaal wat die ekologiese toedrag en impak van die droogte is op riviere in die Suid-Kaap.

“Die voortslepende droogte in die Klein Karoo het ‘n noemenswaardige impak op die landelike omgewing sowel as die bevolking wat blootgestel is aan die plaaslike weerstoestande en klimaat, en wat ‘n bestaan moet maak op die platteland,” sê hy.

Beide Calitzdorp en Ladismith se inwoners is afhanklik van water wat uit die Swartberg-opvangsgebiede vrygestel word. Hoewel onlangse reën verligting gebring het vir die Ladismith-omgewing, is die Calitzdorpdam steeds krities laag.

Die Nelsrivier vroeër in Januarie 2019.

“Die Nelsrivier, wat die voedingsaar van die Calitzdorpdam is, was nog tot onlangs toe niks anders as ‘n droë loop nie,” sê Meiring.

Volgens Japie Buckle, tegniese raadgewer van die Departement van Omgewingsake, is  verskeie jare se bitter lae reënvalsyfers die hoofrede vir die slegte toedrag van watersake. Hy sê egter die Nelsrivier – wat die Calitzdorpdam voed – het so oor die jare heen op groot skaal oortrek geraak met indringerplantegroei.  In die proses is die Nelsrivier lank reeds nie meer ‘n standhoudende rivier nie.”

“Drastiese stappe is nodig om te verseker dat riviere en opvangsgebiede skoon is van indringerplante,” waarsku Meiring. SCLI en die Tafelbergfonds is tans in ‘n proses om grondeienaars in kritiese rivierstelsels in die Suid-Kaap te help met die ontwikkeling van bestuursplanne ten einde hulle in staat te stel om indringerplantegroei meer doeltreffend te kan bestuur en uit te wis.

 

** Die Suid-Kaap Grondeienaarsinisiatief (SCLI) is ‘n openbare platform en dinkskrum vir grondeienaars, grondbestuurders en ander belangegroepe ten einde indringerplante, waterbron-rentmeesterskap en grond as ‘n natuurlike hulpbron te bevorder en te bestuur. SCLI word ondersteun deur die Tafelbergfonds, ‘n filiaal van die Wêreldnatuurfonds van Suid-Afrika (WWF SA). SCLI is ook die sekretariaat van die nuutgestigte Tuinroete-omgewingsforum (GREF). Dié forum bevorder samewerking ten opsigte van bewaring, die aanpasbaarheid van omgewings en gemeenskapsinteraksie met die doel om omgewingsbestuur meer geïntegreerd en doeltreffend te maak.

 


Posted

in

,

by

Tags: